IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA (ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING) In die saak tussen: Saak Nr. 3134/2002 NEWCASTLE KINGS HOTEL (EDMS) BPK SPOT ON AIR Eerste Eiser Tweede Eiser en SAFCAM (EDMS) BPK Verweerder CORAM: CILLIé, R AANGEHOOR OP: 2 SEPTEMBER 2003 GELEWER OP: 25 SEPTEMBER 2003 In uitvoering van n ooreenkoms bereik by die Reël 37 samespreking is aan die begin van hierdie verhoor beveel dat die quantum van eiser se beweerde skade oorstaan vir latere beregting en dat in hierdie verhoor n beslissing van die Hof gevra word op al die ander geskilpunte. Daardie ander geskilpunte het uiteindelik gekristalliseer tot die vraag na die omvang van n versekeringsmakelaar se sorgsaamheidsplig (duty of care) teenoor sy kliënt, die versekerde.
2 Op aansoek van verweerder is paragraaf 7.1.8 van die verweerskrif gewysig om die vermelde datum te wysig na 28 November 2000. Dit is nie in geskil tussen die partye nie dat verweerder sedert ongeveer 1995 die versekering van eiser se Beech Bonanza ZS IBG vliegtuig behartig het. Dit het geskied in terme van n mondelinge ooreenkoms tussen die partye, die relevante terme waarvan as volg deur eiser beweer word: 5.1 Verweerder sou optree as makelaars van Eisers ten einde versekering te bekom ten opsigte van onder andere n Beech Bonanza ZS IBG vliegtuig. 5.2 Voormelde versekering moes deur Verweerder gereël word om te alle tye in plek te wees teen die bes moontlikste premie. 5.3 Die versekering deur Verweerder gereël sou op n jaarlikse basis hernu word, weereens teen die bes moontlikste premie. 5.4 Verweerder sal in sy hoedanigheid as Eisers se versekeringsmakelaar behoorlik en sonder enige nalatigheid optree. 5.5 Verweerder sou adviseer en as sodanig sorg dra dat Eisers se bates te alle tye behoorlik verseker is en Eisers onmiddellik in kennis te stel indien sodanige versekering nie in plek is nie. 5.6 Verweerder sou sorg dra dat Eisers nie tot sy nadeel handel deur onder
3 andere die voormelde Beech Bonanza ZS IBG vliegtuig te gebruik terwyl dit nie onder versekeringsdekking is nie. 5.7 Dat indien Verweerder nie die voormelde terme van die ooreenkoms nakom nie, Eisers skade kan lei. In sy verweerskrif aanvaar verweerder dat hy behoorlik en sonder nalatigheid as eisers se versekeringsmakelaar sou optree en dat eisers skade sou ly as strydig hiermee gehandel word. Hy pleit dan dat hy jaarliks met die oog op hernuwing van die versekering kwotasies moes inwin en dit voorlê aan eisers vir goedkeuring en aanvaarding. As dit aanvaar word moet verweerder versekeringsdekking ooreenkomstig die aanvaarde kwotasie en onderhewig aan die terme en voorwaardes van die versekeringsooreenkoms en standaard versekeringsbeginsels reël. Dan word as volg gepleit: 5.1.4 Versekeringsdekking sou afhanklik wees van die betaling van die premies ooreenkomstig die aanvaarde kwotasies deur tweede eiser voor aanvangsdatum van die versekerings of hernuwingstydperk. Dit word dan gepleit dat die versekering hernu moes word vir die tydperk 1 Augustus 2000 tot 31 Julie 2001; dat dit wel tydig gedoen is na aanvaarding van die voorgelegde kwotasie deur eisers; dat die
4 polisskedule en die polisvoorwaardes aan eisers verskaf is maar dat eisers nagelaat het om die verskuldigde premie te betaal. Dit is gemeensaak dat die vliegtuig tydens n gepoogde landing op 1 Desember 2000 beskadig is en dat die premie toe onbetaald was. Klousule 13 van die polisvoorwaardes, n afskrif waarvan deur verweerder aan eisers verskaf is na die polis hernu is, bepaal dat: The premium under this policy is payable on or before inception date or renewal date as the case may be. The Insurer shall not be obliged to accept premium tendered to it after such date but may do so upon terms as it, in it s sole discretion may determine. Die hernuwingsdatum was 1 Augustus 2000. Die versekeraar het, toe n eis ingedien is, skadeloosstelling geweier op die basis dat die versuim om die premie te betaal die polis laat verval het en daar dus geen dekking meer was na die hernuwingsdatum nie.. Ten einde die effek van bogemelde te vermy steun eiser in sy replikasie daarop dat as gevolg van verweerder se optrede tydens vorige versekeringstermyne eiser aanvaar het dat tussentydse versekeringsdekking deur verweerder gereël is tot tyd en wyl die premie uitgeklaar en of betaal is. Die gevolg hiervan was dat die getuienis wat deur beide partye aangebied was hoofsaaklik daarop gerig was om lig te werp op wat in die verlede ten aansien van betaling van die premie geskied het. Dit blyk uit hierdie getuienis dat verweerder sedert die versekeringstermyn wat begin het op 1 Augustus 1995 die versekering van hierdie vliegtuig namens eisers hanteer het. Volgens die eisers het hulle juis die versekering aan verweerder as makelaar toevertrou omdat mnr. Anton van Wyk van verweerder ervare en kundig was in die veld
5 van vliegtuigversekering. Dit moet gemeld word dat gesegde Anton van Wyk self n gekwalifiseerde vlieënier is en klaarblyklik meer kundig en ervare is oor vliegtuie as die gewone versekeringsmakelaar. Die getuienis dui aan dat die premie wat op 1 Augustus 1995 betaalbaar was eers op 14 Februarie 1996 betaal is, die premie betaalbaar op 1 Augustus 1996 skynbaar eers op 18 Desember 1997 betaal is, die premie betaalbaar op 1 Augustus 1997 eers op 12 Januarie 1998 betaal is en die premie wat op 1 Augustus 1999 betaalbaar was eers op 4 Julie 2000 betaal is. Alhoewel nie in soveel woorde gestel nie is dit eiser se saak dat dit n valse gerusstelling ten aansien van dekking gebied het. Trouens, mnr. Hennie Willemse van die eiser se getuienis was dat voormelde Van Wyk hom by n geleentheid verseker het dat laat betaling van die premie in orde is solank dit maar voor die einde van die termyn betaal word. Hierdie getuienis is deur Van Wyk ontken. Volgens Van Wyk het hy ten aansien van die premie wat op 1 Augustus 1999 betaalbaar was herhaaldelik betaling versoek. Bykans teen die einde van die termyn het mnr. Albert Willemse van die eiser versoek dat teenoor die versekeraars voorgestel moet word dat versekering nie opgeneem was nie en betaling van die premie sodoende vermy sou word. Eers na die nadele hiervan aan Albert Willemse uitgewys was is die premie volgens Van Wyk betaal. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat die eisers oor jare n rekord van laat betaling het. Ten aansien van die betaling van die tersaaklike premie (dit is die premie vir die versekeringstermyn 1 Augustus 2000 tot 31 Julie 2001) is dit nodig om in meer besonderhede na die getuienis te verwys. Dit is doenlik om eers met die getuienis namens verweerder in hierdie verband te handel. In die verweerder se kantoor is hierdie aangeleentheid deur Me. L. Olivier (destyds Campbell) hanteer. Die eisers soos alle kliënte het volgens haar n aparte lêer gehad. Op die lêeromslag is aantekeninge gehou van gebeure. Dit is Bewysstuk B52 en B53 in hierdie saak. Die kwotasie vir die versekeringsjaar wat sou begin op 1 Augustus 2000, Bewysstuk B50, is volgens haar deur haar op 21 Junie 2000 aan Hennie Willemse gefaks. Bewysstuk B52 staaf dit. Op 23 Augustus 2000 het Albert Willemse die hernuwing bevestig en die versekeraar is dienooreenkomstig ingelig. Bewysstuk B52 bevat n stawende aantekening. Bewysstuk B51 is haar skrywe gedateer 23 Augustus 2000 aan die versekeraar wat Albert Willemse se aanvaarding van die hernuwing bevestig. Op dieselfde datum het sy per die skrywe, Bewysstuk B49, gerig aan Hennie Willemse betaling van die premie versoek. Die laaste aantekening onderaan Bewysstuk B52 bevestig dit.
6 Volgens haar was n afskrif van die kwotasie, B50, weereens aangeheg aan B49. Op 13 September 2000 het Wesbank bevestiging versoek dat n ander vliegtuig wat onder dieselfde polis resorteer wel dekking het en sy het dit bevestig. (Vgl. Bewysstuk B53 ). Volgens haar was die rede daarvoor dat die versekeringsmaatskappy n respyt periode vir betaling van die premie tot 30 September 2000 toegelaat het. Op 18 September 2000 het sy die skrywe A88 aan Hennie Willemse gestuur. Daarby was die polis en skedule weereens aangeheg. In die skrywe is eisers aangemaan om voor die einde van September 2000 die premie te betaal. Op 27 September 2000 het Hennie Willemse volgens haar navraag gerig aangaande die omvang van die publieke aanspreeklikheid. Sy het die versekeraar geskakel wat bevestig het dat die premie bereken is op R1 miljoen en nie R2 miljoen soos aanvanklik op die kwotasie aangedui nie. Volgens Me. Olivier het sy telefonies dit aan Hennie Willemse oorgedra ( bewysstuk B53 bevestig dit) en hom ingelig dat daar net drie dae oor is vir betaling van die premie. Op 28 November 2000 het sy Albert Willemse toevallig raakgeloop te Rite Value en hom gesê dat die premie nog uitstaande is. Bewysstuk B53 bevestig dit. Volgens haar het sy hom ingelig dat daar probleme sal wees as n eis ontstaan. Albert het onderneem om sy broer Hennie te kontak en dit onder sy aandag te bring. Me. Olivier het volgens haar, vir Albert Willemse by meerdere geleenthede, as sy hom raakgeloop het, versoek om die premie te betaal. Die getuienis van Anton van Wyk was in een opsig belangrik. Volgens hom het hy, Albert Willemse en n derde persoon voor 1995 n vliegtuig saam besit. Skade het ingetree aan die vliegtuig en vanweë wanbetaling van die premie was daar probleme met skadeloosstelling. Uiteindelik het die versekeraar hulle tegemoet gekom eintlik maar as n guns. Op sterkte hiervan beweer hy moes Albert Willemse weet dat wanbetaling van die premie geen dekking as resultaat het. Volgens Van Wyk het hy onmiddellik toe die ongeluk nou ter sprake aan hom rapporteer was aan Albert Willemse gevra of die premie betaal is. Dié het nie geweet nie. Van Wyk het navraag laat doen en vasgestel dat dit nie betaal is nie. Toe hy daarna met Hennie Willemse praat was die trant van die gesprek nie n beskuldiging dat hy sy pligte versaak het nie, maar n versoek dat hy moet help om die gevolge te vermy. Hennie Willemse het hom selfs versoek om valslik voor te gee dat die premie wel deur hom ontvang was, wat hy egter nie bereid was om te doen nie. Hy het gaan mooipraat met die versekeraar maar dié was op grond van die eisers se swak betaalrekord in die verlede onverbiddelik. Van Wyk se
7 getuienis was dat dit algemene kennis is dat waar geen premie betaal word daar nie dekking is nie. Gegewe die Willemses se ervaring as sakelui is dit vir hom ondenkbaar dat hulle kan dink dat daar dekking kon wees terwyl die premie nie betaal is nie. Hy het volgens hom nooit aan Hennie Willemse te kenne gegee dat dit in orde sou wees as die premie maar net voor die verstryking van die versekeringstermyn betaal word nie. Hennie Willemse het namens die eisers getuig dat die skrywe A88 waarby die polis en skedule aangeheg was teen die einde van September eers vanaf verweerder ontvang was. Hy het navrae oor die berekening van die premie aan Me. Olivier gerig en op antwoorde gewag. Intussen is die premie nie betaal nie omdat hy gemeen het daar is dekking. Daar is nie aan hom terug rapporteer op sy navrae nie. Hy het van verweerder verwag om toe te sien dat eisers te alle tye gedek is met versekering. Klousule 13 van die polis supra na verwys het hy nie van kennis geneem nie omdat hy in die hande van n professionele makelaar is. Hy het gemeen solank die premie maar betaal word voor die einde van die versekeringstermyn is alles in orde. Hy erken dat geen ander korttermynversekering van die eisers op so n basis werk nie. Albert Willemse het in sy getuienis erken dat Me. Olivier hom ingelig het dat die premie nog nie betaal is nie. Hy ontken egter dat dit op 28 November 2000 was en getuig dat dit ongeveer twee maande vroeër was. Hy het haar toe aangesê om dit met Hennie Willemse op te neem. Daar is nooit aan hom gesê dat daar geen dekking is as die premie nie betaal is nie.
8 Mnr. Zietsman, namens die eisers, se betoog was dat die saak eintlik beslis kan word sonder enige pertinente geloofwaardigheidsbevindings tussen die botsende weergawes. Hy aanvaar dat as verweerder aan eisers sou gesê het dat sonder betaling van die premie daar nie dekking is nie dit fataal vir eisers se saak sou wees. Sy betoog is egter dat gegewe verweerder se posisie as kundige makelaar hy sorg moes dra dat die eisers deurgaans gedek gehou word of ten minste moes hy hulle uitdruklik ingelig het dat daar geen dekking is nie. Vir soverre Me. Olivier se getuienis nie gestaaf word deur n gelyktydige aantekening op die lêer, Bewysstuk B52 en 53 nie, kan dit volgens die betoog nie aanvaar word nie. Mnr. Jordaan, namens die verweerder, betoog dat die waarskynlikhede oorweldigend is dat eisers soos verteenwoordig deur die Willemses geweet het wanbetaling van die premie lei tot gebrek aan dekking. n Versekeringsmakelaar het n sorgsaamheidsplig teenoor sy kliënt. Hy moet deurgaans met redelike sorg en kundigheid optree. Dit is een van die naturale van n versekeringsmakelaarsooreenkoms. (Vgl. STANDER v RAUBENHEIMER 1996 (2) SA 670 (O) op 675A D; GORDON v AA MUTUAL INSURANCE ASSOCIATION LTD 1988 (1) SA 398 (W)). In LAWSA First Re issue, Vol. 12, para 472 word die makelaar se primêre plig as volg gestel: The primary duty of the broker is to attempt to obtain coverage for the insured within a reasonable time and if cover is obtained to advise the insured promptly of the terms of the cover that has been arranged for him Closely connected to the duty of the broker to obtain coverage is the authority of the broker to conclude the contract on the insured s behalf. A failure to obtain
9 any cover, a delay in obtaining the cover or a failure to obtain the required cover may render the broker liable to the insured. Dit is nie in geskil nie dat die verweerder dit alles gedoen het. Eisers is ook ingelig wanneer die premie betaalbaar is. Die verpligting was nou op die eisers om die premie te betaal. Vgl. LAWSA supra par 334 waar dit as volg gestel word: Where the insured is contractually bound to pay the premium and must do so by a certain date, he will commit breach of contract.. if he does not pay timeously. Dit val nie binne n makelaar se sorgsaamheidsplig om agter die versekerde aan te loop om die premie te gaan vorder nie. Dit is nie namens die eiser gesuggereer en gesag tot daardie effek kon ook nie gevind word nie dat dit regtens van die makelaar verwag kan word om die premie solank namens die versekerde te betaal indien die versekerde nalaat om dit te doen nie. Die teenoorgestelde reël by marine versekering is beperk tot sodanige versekering en is nie uitgebrei na ander tipe versekering nie. Vgl. The South African Law of Insurance: Gordon & Getz, 4de Uitg. p.196. In die onderhawige geval het die verweerder selfs n verlengde respyt tydperk vir die eisers beding. Daar was dus geen nalatigheid of versaking van sy sorgsaamheidsplig teenoor eisers tot op dáárdie tydstip aan die kant van die verweerder nie. In eiser se besonderhede van eis word dit egter in die alternatief beweer dat die verweerder nalatig was deur nie na 30 September 2000 synde die verstryking van die respyt tydperk die eisers in te lig dat daar nie meer dekking is alvorens die premie betaal word nie. Of dit nodig was om
10 eisers sodanig in te lig sou afhang van die vraag of dit redelikerwyse van n makelaar verwag kan word om te besef dat die versekerde onbewus is daarvan dat daar nie dekking is nie. Indien die versekerde daarvan bewus is of redelikerwyse verwag kon word om bewus te wees, sou daar myns insiens nie so n verpligting op die makelaar rus nie. Daar kan nie van n makelaar verwag word om sy kliënt aanhoudend in te lig van dit waarvan die kliënt alreeds ingelig was en in elk geval bewus is nie. Die volgende getuienis dui op n oorwig van waarskynlikhede daarop dat die eisers wel deeglik geweet het dat as die premie nie betaal is nie daar nie dekking is nie. 1. Toe die vliegtuig waarin Albert Willemse n belang gehad het in 1995 beskadig is, was daar vanweë nie betaling van die premie ernstige probleme om skadeloosstelling te kry. Albert Willemse moes nieteenstaande sy ontkenning daarvan bewus gewees het van hierdie probleme. 2. Klousule 13 van die polis wat aan Hennie Willemse versend is meld uitdruklik dat die premies betaalbaar is by hernuwingsdatum. 3. As ervare sakemanne is dit onwaarskynlik dat die Willemses nie
11 sou weet dat versuim om die premie te betaal lei tot gebrek aan dekking nie. 4. By al die eisers se ander korttermynversekering geld die vereiste dat die premie betaal moet word vir dekking. 5. Me. Olivier se aandrang teenoor Albert Willemse dat die premie betaal moet word. Vgl. A88 waar die sperdatum van September 2000 gestel word. Die getuienis van Me. Olivier dat sy Albert Willemse verskeie kere en ook op 28 November 2000 ingelig het dat daar groot probleme sal wees as daar n eis ontstaan is oortuigend en dit word aanvaar bo Albert Willemse se ontkenning daarvan. Haar getuienis word grootliks gestaaf deur kontemporêre aantekeninge op die lêeromslag Bewysstuk B52 en 53. 6. Die getuienis van Hennie Willemse dat Anton van Wyk hom sou gesê het dat alles in orde is solank die premie voor die einde van die termyn betaal word is onwaarskynlik en onaanvaarbaar. Dit is ondenkbaar dat n ervare verskeringsmakelaar sy kliënt onder sodanige wanindruk sou bring. Na alles verdien die makelaar sy kommissie uit die betaling van die premie. Selfs mnr. Zietsman,
12 namens die eisers, het in sy betoog tereg aanvaar dat daardie getuienis nie aanvaar kan word nie. 7. Die reaksie van die Willemses toe hulle ingelig is dat daar nie dekking is nie klop nie met wat verwag sou word van persone wat onder die indruk is dat daar wel dekking is nie. Die eisers het my vanweë bogemelde redes nie oortuig dat die verweerder die terme van die makelaarsooreenkoms ten aansien van die sorgsaamheidsplig tussen hulle verbreek het nie. Bygevolg word die eisers se eis afgewys met koste. C.B. CILLIé, R Namens die Eisers: Adv. P. Zietsman i.o.v. Lovius Block Namens die Verweerder: Adv. A.F. Jordaan SC i.o.v. Honey Prokureurs /scd