IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID AFRIKA (ORANJE VRYSTAATSE PROVINSIALE AFDELING) In die saak tussen: Saak No.: 1010/2003 DIE PROKUREURSORDE VAN DIE VRYSTAAT Applikant en HERMAN TREVOR BARNEY LEVIN Respondent CORAM: MALHERBE R.P. et CILLIé R AANGEHOOR OP: 4 DESEMBER 2003 UITSPRAAK DEUR: CILLIé R GELEWER OP: 11 DESEMBER 2003 Die applikant doen aansoek om die skrapping alternatiewelik skorsing van die respondent, n toegelate prokureur van hierdie Hof, van die rol van prokureurs asook die gebruiklike verdere regshulp met betrekking tot die afhandeling van respondent se uitstaande werk op hande. Die aansoek spruit voort uit die getuienis aangehoor deur n dissiplinêre komitee van die applikant tydens n verhoor van die respondent waartydens hy op die volgende klagtes skuldig bevind is: 1. Die werwing op groot skaal van derdeparty eise teen die Padongelukkefonds deurdat respondent n lid van die Suid
2 Afrikaanse Polisie en ander persone aangestel en vergoed het om sulke eisers vir hom te werf en na hom te verwys. 2. Oortreding van Reël 17(30) van die applikant se reëls deurdat respondent eise van sogenaamde derdeparty konsultante gekoop het. 3. Die finansiering van kliënte se uitgawes deur instansies teen n buitensporige hoë rentekoers sonder om die volle aard en strekking en implikasies daarvan aan die kliënte te verduidelik. 4. Die oorverhaling van fooie van kliënte vir wie hy sulke derdeparty eise hanteer het. Die respondent het tydens hierdie dissiplinêre verhoor skuldig gepleit op die klagtes vermeld in paragrawe 1 en 4 supra. Die getuienis het origens die klagtes in paragrawe 2 en 3 supra bo enige twyfel bewys. Dit is doenlik om in meer besonderhede na die klagtes te verwys. Ten aansien van die klagte in paragraaf 1 vervat, dui die getuienis aan dat ene Sersant Erasmus van die Suid Afrikaanse Polisiediens te Batho by persone wat in motorvoertuigongelukke beseer geraak het verklarings
3 afgeneem het en die nodige ander dokumente verkry het en dan die beseerdes na die respondent verwys het ten einde namens sulke persone n derdeparty eis in te stel. Respondent self het die prosedure wat gevolg was so verduidelik tydens sy verhoor: gsersant Erasmus is werksaam by Batho Polisiestasie. Hy werk dan ook as n motorongeluk ondersoekbeampte saam met Sersant Moshe. By geleentheid het ek, soos ek gemeld het in my antwoorde, Batho besoek met een van my derdeparty eise ten einde inligting te bekom. Sersant Erasmus het my genader op n stadium en gevra of hy mense na my toe kan verwys wat graag derdeparty eise wou instel. Hy het vir die mense gevra of hulle, eerstens as hy gesien het die persoon was in n ongeluk betrokke, het hy gevra of die persoon bewus is dat hy n derdeparty eis kan instel. Indien die persoon gesê het nee het hy vir hom gesê, maar okay, hy kan n derdeparty eis instel of het hy n prokureur. As die persoon geantwoord het hy het nie n prokureur nie, dan het hy vir hom gesê maar hy ken iemand na wie toe hy hom kan verwys en Sersant Erasmus het dan die betrokke mense na my toe gebring of na my toe gestuur, my werksadres vir hulle gegee waar hulle my kan kom spreek of kom sien in verband met n derdepartyeis. Ek het die meriete beoordeel en gekyk of die persoon wel n eis het en indien hy dan kon eis van die Padongelukkefonds het ek voortgegaan en n derdeparty eis namens die persoon ingestel. Sersant Erasmus was dan voortaan, aangesien hy die persoon na my toe verwys het, verantwoordelik vir die betrokke lêer. Indien dit sou wees dat daar sekere verklarings bekom moes word, het ek hom geskakel en moes hy
4 dan die betrokke verklarings vir my gaan afneem. Dit het baie keer gebeur, of daar was n stadium wat hy selfs twee weke verlof geneem het om sekere navrae op my lêers te gaan uitsorteer vir kliënte wat hy na my verwys het. Dit het ook al by tye gebeur dat kliënte vir regsmediese verslae na dokters toe moes gaan en was dit dan Sersant Erasmus se taak, indien hy die persoon na my toe verwys het, om die aand voor die tyd die persone te gaan waarsku sodat hulle gereed sou wees die volgende dag vir die doktersafspraak. Indien dit dan vir hom moontlik was sou ek dan ook van hom verwag het om die kliënt te gaan oplaai en na die dokter te neem. Daar was, onder andere, tye wat ek kliënte Johannesburg toe moes vat vir regsmediese verslae en moes Sersant Erasmus dan sorg dat kliënte gereed is. Indien daar skoolrapporte verkry moes word moes hy dit dan onder die ouers se aandag bring soos dit my instruksies aan hom was, en moes hy dan ook die ouers vergesel het na skole indien die ouers nie by die skole kon uitkom of dit op baie kort kennisgewing was. Wisselende vergoeding is dan aan gesêgde Erasmus betaal ten aansien van elke geval wat na respondent verwys was. n Totale bedrag van R15 050,00 is aan Erasmus betaal vir 57 verwysings. Ene Kaizer, n derdeparty assessor, het sewe gevalle op hierdie wyse na respondent verwys en n totale vergoeding van R750,00 is aan hom betaal. Ten aansien van die klagte in paragraaf 2 supra vervat het die respondent by ene Johan Jacobs 52 derdeparty eise gekoop teen n totale bedrag van
5 R51 050,00 en by ene Willie Pretorius 43 sulke eise teen R23 700,00. Die koop van sulke derdeparty eise by sulke persone of organisasies wat nie n prokureur of n assessor is wat optree in opdrag van n geregistreerde versekeringsmaatskappy nie, is strydig met Reël 17(30) van die applikant se Reëls. Hierbenewens het die applikant op 23 Januarie 1998 n omsendskrywe aan alle prokureurs uitgestuur waarin hul aandag op die verbod op hierdie gedrag gevestig is. Die respondent beweer weliswaar dat hy nie hierdie skrywe ontvang het nie. Ten einde die derdeparty eisers se aanvanklike uitgawes te finansier, het die respondent lenings ten behoewe van die kliënte by twee instansies, naamlik Wozani Investment en MVA Financing gedoen. By eersgenoemde is n rentekoers van 10% per maand betaal en by laasgenoemde 15% per maand. Dit het meegebring dat n substantiewe deel van die kliënt se uiteindelike uitbetaling soos van die Fonds ontvang is, deur rente verteer was. Hierdie implikasie is nooit met die kliënt bespreek en uitgeklaar nie. Wat die aangeleentheid vererger is die feit dat die respondent self die alleen belanghebbende in MVA Financing was. Die klagte wat in paragraaf 4 supra vervat is, naamlik die oorverharling van fooie, het in vier gevalle plaasgevind. In die geval van kliënt
6 Jacqueline Thompson het die respondent fooie ten bedrae van R9 947,95 gehef wat na taksasie slegs R5 088,94 opgelewer het, n oorverhaling dus van R4 859,02. Ten aansien van kliënt J. van Wyk was die oorverharling R3 413,25 op fooie van R5 589,46 wat aanvanklik gehef was. Vir kliënt T.I. Thabane is R3 910,41 se fooie gehef wat na taksasie n oorverhaling van R1 770,56 getoon het. T.S. Ramakau is met R54 778,71 se fooie gedebiteer terwyl op taksasie slegs R18 263,14 toegeken is wat n oorverhaling van R40 655,57 daarstel. In sy antwoordende eedsverklaring het die respondent nie die geldigheid van die klagtes aangeveg nie. Sy eedsverklaring was in sy eie woorde daarop gemik om... die Hof te beweeg en in staat te stel om tot n billike besluit te geraak en n gepaste bevel te maak. So n gepaste bevel sou, so word deur hom aangevoer, wees dat die respondent vir n tydperk as prokureur geskors word, maar dat toegelaat word dat die respondent in daardie tydperk as professionele assistent beperk tot aktevervaardiging kan werk. Die laasgemelde vergunning is natuurlik nie moontlik nie omdat slegs n toegelate prokureur as aktevervaardiger kan praktiseer. As motivering vir die versoek tot skorsing instede van skrapping gee die respondent, onder andere, n uiteensetting van sy lewensgeskiedenis van kindsbeen af. Dit blyk hieruit dat die respondent ongelukkige kinderjare gehad het, n groot deel daarvan in n kinderhuis deurgebring het en later met lofwaardige deursettingsvermoë sy kwalifikasies op n deeltydse basis behaal het. Hy is in Januarie 1997 as prokureur toegelaat. Terwyl hy praktiseer het moes hy van tyd tot tyd sy drie jonger susters finansieel ondersteun. Hy gee vir oorweging dat sy optrede primêr spruit uit n ambisie om nieteenstaande sy ongelukkige agtergrond tog n sukses van sy professie te maak en nie te wyte was aan blote gierigheid nie. Ten aansien van die oortreding dat hy kliënte gewerf het wys hy daarop dat daar aanduidings is dat dit redelik algemeen in die beroep voorkom en dat die vraag eintlik net is hoe suksesvol dit op n bedekte wyse gedoen
7 kan word. Dit veroorsaak volgens hom n ongelyke speelveld wat dit vir jong opkomende prokureurs moeilik maak om hulleself te vestig. Dit, voer hy aan verminder sy morele verwytbaarheid. Hy heg sy finansiële state vir die jaar eindigende Februarie 2002 by sy eedsverklaring aan as bevestiging daarvan dat hy nie werklik besondere finansiële voordele behaal het uit sy optrede nie. Uit gemelde state blyk dat hy vir daardie belastingjaar n netto inkomste van R76 189,00 gehad het. Hy wys verder daarop dat hy nog nooit tevore skuldig bevind was aan enige kriminele oortreding of n oortreding van die Reëls van die applikant nie. Mnr. De Wet, namens die applikant, het met n beroep op die ongerapporteerde uitspraak van hierdie Hof in PROKUREURSORDE VAN DIE VRYSTAAT v P.J. BRITZ, saaknommer 810/1999 gedateer 5 Augustus 1999, betoog dat hierdie Hof al soortgelyke optrede in dermate ernstige lig beskou het dat dit gelei het tot skrapping van die rol. Hy beklemtoon egter dat sy opdrag van die applikant is dat slegs gevra moet word vir skorsing vir n periode wat die Hof goedvind. Dit is natuurlik welbekende reg dat die Hof nie gebonde is aan die siening of aanbeveling of versoek van die applikant nie en dat die Hof sodanige bevel moet maak as wat deur die Hof in die omstandighede goedgedink word. Die siening van die applikant is egter n faktor wat die Hof in ag sal neem. Die getuienis in die BRITZ saak het aangedui dat daardie respondent op n heelwat groter skaal as die onderhawige respondent fooie oorverhaal het. Daar was talle gevalle waar die kliënt glad niks van die uitbetaalde eis van die Padongelukkefonds ontvang het nie. In ander
8 gevalle was die oorverhaling deur die bank hoër as 60% van die uitbetaalde eis. Daar was ook aanduidings dat daardie respondent nie in alle opsigte openhartig en eerlik met die applikant se Raad en met die Hof was nie. Die onderhawige respondent se voormalige vennoot, ene Van den Berg, is ook vroeër deur die applikant se dissiplinêre komitee skuldig bevind op meer of min soorgelyke klagtes as die onderhawige respondent. Dit het ook gelei tot n aansoek om sy skrapping. In THE LAW SOCIETY OF THE FREE STATE v DEON VAN DEN BERG, Saaknommer 1628/2002 gedateer 17 Oktober 2002, het Malherbe, Regter President met goedkeuring verwys na CIROTA AND ANOTHER v LAW SOCIETY, TRANSVAAL 1979 (1) SA 172 (A) asook na die destydse nog ongerapporteerde uitspraak wat tans gerapporteer is as LAW SOCIETY OF THE CAPE OF GOOD HOPE v BUDRICKS 2003 (2) SA 11 (SCA). In die CIROTA uitspraak waarna Malherbe R.P. verwys het, het die Hoogste Hof van Appèl gewys op die laakbaarheid van kliëntewerwing. In die BUDRICKS uitspraak is n nuwe neiging om diefstal van trustgelde meer toeskietlik te beskou wat in CAPE LAW SOCIETY v PARKER 2001 (1) SA 582 (K) na vore kom met misnoeë
9 bejeën. Die respondent se voormalige vennoot Van den Berg was egter nie aangekla van oorverhaling van fooie nie. n Verdere onderskeidende faktor in die VAN DEN BERG saak is die feit dat hy ook onreëlmatig opgetree het as die trustee van die Vermaak Trust. Wat in feite gebeur het was dat hy gelde van daardie trust op so n wyse belê het dat sy firma daaruit voordeel behaal het terwyl die bates van die trust daardeur op risiko geplaas was. Van den Berg is vir n periode van drie jaar in sy praktyk as prokureur geskors. Agtien maande daarvan was egter opgeskort vir n periode van vyf jaar op voorwaarde dat hy hom nie gedurende die opskortingstermyn skuldig maak aan onprofessionele of oneerbare of onbetaamlike gedrag nie soos bedoel in artikel 71 van die Wet op Prokureurs van 1978. Dit is verder gelas dat die opskortingstermyn van vyf jaar eers na die skorsingstermyn van 18 maande n aanvang sal neem. Die onderhawige respondent se vergrype moet in n ietwat ernstiger lig as dié van Van den Berg gesien word. Dit word teweeggebring deur die gevalle van oorverhaling van fooie waarna reeds verwys is. Daarby kom dit my ook voor asof Van den Berg moontlik homself gelukkig kan ag dat n deel van sy skorsing opgeskort was. In die lig van wat reeds gesê is word die volgende bevele dan gemaak:
10 1. Die respondent word vir drie (3) jaar in sy praktyk as prokureur geskors. 2. Bedes A1.2 1.5 en B, C, D, E en F van die Kennisgewing van Mosie word toegestaan. C.B. CILLIé, R EK STEM SAAM J.P. MALHERBE, R.P. Namens Applikant: Adv. P.J.T. de Wet i.o.v. Symington & De Kok Namens Respondent: Adv. M.H. Wessels SC i.o.v. Du Plessis & Van Coppenhagen /scd